Friday, 3 February 2012

Die EK IS bybelstudie. deel 1

Voor Abraham was IS EK

Hierdie is deel een van ons Bybelstudie waarin ons gaan kyk na die sewe "EK IS" stellings van Jesus soos dit in die Evangelie van Johannes opgeteken is. Voor ons wegspring daarmee wil graag eers kyk na 'n ander " EK IS" stelling, ook in die Evangelie van Johannes, wat nie onder die sewe getel word nie, maar wat ek dink 'n baie goeie basis vorm vir wanneer ons gesels oor wie en wat Jesus regtig was. Ons vind dit in Joh. 8:58, maar as ons die konteks wil verstaan moet ons die gedeelte begin lees by vers Joh. 8:48-59 lees.

Lees ook Eksodus 3:14   "Toe sê God vir Moses: Ek is wat ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ' Ek is'  het my na julle toe gestuur."

Die Kerstyd is agter die rug en ons is reg vir die nuwe jaar. Ek wil vra dat jy bietjie terugdink. Hoeveel keer deur die kerstyd het jy iemand hoor sê ek glo nie dat Jesus uit 'n maagd gebore is nie, maar dit maak nie regtig saak nie. Ons glo steeds in die wonder van die verhaal. Ons weet beter as om die verhaal letterlik op te neem, maar ons kan glo in dieselfde gees waarin dit vir ons geskryf is. Ons glo nie Hy was God nie, maar ons glo steeds dis belangrik om die geboorte te vier.

Ek kan aangaan en aangaan, maar julle weet waarvan ek praat. 

In hierdie verhaal gesels die Jode  met Jesus oor hulle voorvader Abraham en voel so bietjie verergd oor die idee dat Hy praat asof Hy vir Abraham beter ken as hulle.   Hulle is dan kinders van Abraham. Dan gaan Jesus selfs verder, en sê: Voordat Abraham was, was ek al wat Ek IS. In die Grieks maak die woorde wat gebruik word duidelik dat Abraham 'n begin gehad het, maar die woorde wat Jesus vir Homself gebruik het, impliseer dat Hy geen begin gehad het nie, maar van altyd af bestaan. Dit is 'n eienskap van God alleen. In die Afrikaanse Vertaling is dit so vertaal dat die grammatika amper maklik lees. Vergelyk dit met 'n paar ander vertalings.

Afrikaanse Ou Vertaling
          Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.
King James Vertaling
          Jesus said unto them, Verily, verily, I say unto you, Before Abraham was, I am.
English Standard Version
         Jesus said to them, “Truly, truly, I say to you, before Abraham was, I am.”

Wanneer Jesus vir die Jode sê:  voordat Abraham was Ek Is, klink dit vir ons soos 'n taalfout en baie 'kundiges' vandag voel dat dit nie regtig duidelik is wat daarmee bedoel is nie. Maar daar was by die Jode  absoluut geen twyfel wat Hy bedoel het nie. Ons kan dit debateer en bespreek en wonder, maar hulle was absoluut seker. Daarom hulle reaksie: hulle het dadelik klippe opgetel om Hom te stenig. Hoe durf Hy Homself gelykstel aan God. Hulle ken die verhaal van Moses. Hulle het dadelik die konneksie gemaak en verstaan dat hierdie man besig is om te sê: Ek is God. 

Ons moet Hom of glo, dat Hy wel God is, of ons moet niks met Hom te doen hê nie. Daar is geen middeweg oop tot ons beskikking nie. Hy was nie net 'n goeie mens of 'n profeet nie. Ons kan nie sy leering aanvaar as ons nie Sy Godheid aanvaar nie. Sonder om te aanvaar dat Jesus self God is, moet ons erken dat party van die goed wat Hy gesê het sommer net gevaarlik was.
 
As jy ooit twyfel aan die waarheid dat Jesus Christus ten volle mens sowel as tenvolle God is, bid daaroor, lees die Skrif, bid soos die pa in Markus 9:24 "Ek glo, Help my waar ek nog ongelowig is". Wat die Skrif ons leer kan ons glo. Maar moet nooit, nooit sê: dit maak nie regtig saak nie, want dit maak saak. Ons ewige heil hang af van wat ons glo aangaande Christus, die een wat in ons plek aan die kruis gehang het. As Hy net 'n mens was, soos ek en jy, het Hy sy eie sondige natuur gehad, en kon Hy nie in ons plek sterf nie. Dan was alles in die Bybel 'n klug en dan moet ek en jy ons eie ewige dood sterf vir one eie sondige natuur.

Om oor na te dink...
1. Wat sal ons antwoord wanneer mense sê Jesus was 'n goeie mens en daarom het God Hom gekies om Sy Seun te wees?

2. Verstaan jy hoekom die maagdelike geboorte 'n kardinale deel van ons verlossing is? Hoekom kon Jesus nie net as 'n man gebore word, as 'n seun van Adam nie.

No comments:

Post a Comment