Friday, 3 February 2012

Die EK IS Bybelstudie Deel 2

Ek is die Brood van die Lewe Tekste:
Eksodus 16:11-36
Levitikus 24:5-9
Johannes 6:47-58

Brood het groot betekenis in die Bybel.  In die eerste plek was brood die stapelvoedsel gewees in Bybelse tyd, soos dit vandag nog is in baie dele van die wêreld.  Brood is 'n verwysing na alle kos.  Dit is hoekom ons in die Onse Vader geleer word om te sê "gee ons vandag ons daaglikse brood".   In hierdie geval verwys dit na al ons behoeftes.

Terwyl die Israeliete in die woestyn was, het die Here hulle daagliks gevoer met manna en kwartels.  Die interessante  deel van hierdie voorsiening was dat dit slegs vir die dag se behoeftes was.  Hulle kon nie kos opgaar nie.  Wanneer  hulle probeer het, het dit miet gekry en gestink teen  die volgende oggend, behalwe op die Sabbatdag.  Vir die Sabbat kon hulle die dag voor die tyd genoeg opgaar.  Dit bewys aan ons dat die Here se daaglikse voorsiening die les was wat hulle moes leer.  Dit was nie die inherente vergangklikheid van manna en kwartels wat dit bederf het nie.  As die manna en kwartels net nie langer as 'n dag kon hou nie, sou dit ook op die Sabbat bederf geraak het.  God wou hê die Israeliete moes leer om elke dag op Hom te vertrou vir Sy voorsiening.  Wanneer ons opgaar begin ons roem in ons eie opgaar vaardighede en nie meer in God se voorsiening en liefde en genade nie.

Wanneer Jesus in die Evangelie van Johannes praat oor die die brood, trek Hyself 'n direkte lyn tussen die manna van die Ou Testament, wat God se voorsiening was vir die mense, vir lewe, na Homself as die Brood van die Lewe - God se voorsiening vir mense vir die ewige lewe.  Soos  die manna in die Ou Testament gekeer het dat die Israeliete in die woestyn doodgaan van honger, so, sê Jesus, keer Hyself  dat ons in sonde sterf en vir ewig in die hel beland.  As ons van hierdie Brood eet en Sy bloed drink sal ons vir ewig lewe.  As ons met ons hele wese deel word van Christus en in Hom leef, en Hom toelaat om in ons te leef, sal ons nooit weer nodig hê om geestelik uit te honger en kos te soek nie.  God het eens en vir altyd vir ons voorsien in ons behoefte aan vergifnis, en ons behoefte om in gemeenskap met God te kan leef.  Ons vind dit in Jesus Christus en in Hom alleen.

In hierdie gedeelte uit die Evangelie van Johannes is dit interessant om te sien hoe hierdie een simbool, brood, terug wys en vooruit wys.  Jesus neem die manna wat uit die antieke geskiedenis van Israel kom, en wys hoe dit oor duisende jare vooruit gewys het na Hom.  Dan gaan hy verder en wys hoe Sy liggaam die Brood is en sy bloed die wyn is waarin lewe ook in die toekoms gevind sal word.  Ons, vandag, gebruik dieselfde simbool in die nagmaal, om terug te wys na Christus se koms en die kruisdood wat Hy vir ons gesterf het, sodat ons kan lewe.  Jesus het basies in daardie teks verduidelik hoe Hy en Hy alleen die middelpunt van die geskiedenis is.  Van antieke tye af het dit oor Hom gegaan, oor wat Hy gaan kom doen.  Toe het hy dit kom doen, en wat Hy gedoen het is steeds die middelpunt van ons bestaan.  Jy sal sien dat ek aanhou sê "wat Hy gedoen het". Dis waaroor dit gaan. Dit gaan  nie oor wat ek en jy doen nie.  Dit gaan nie oor wat ek en jy kan vermag, kan opdis, kan uitdink nie. Dit gaan net oor Jesus Christus en wat Hy vir ons gedoen het.  Hy het dit alles gedoen, en dat ons deel het daaraan is suiwer genade.

Daar is een ander beeld van brood waarna ons kan kyk. Daar is in werklikheid baie meer, maar hierdie Bybelstudie is net nie groot genoeg daarvoor nie. Ons kan maar net soos 'n naaldekoker oor die water se oppervlak woerts.

Terwyl die Israeliete in die woestyn was het die Here vir Moses opdrag gegee om die tebernakel te bou, die tent van ontmoeting.  Die Here wou 'n plek hê waar Hy met Sy mense kon ontmoet.  Hy was baie spesifiek oor die detail waarmee die tabernakel gebou moes word. Die hele tabernakel is 'n baie interessante studie en wys heen na God se verlossingsplan, maar, weereens, vir hierdie studie gaan ons net fokus op die brood. 

Daar was baie spesifieke instruksies aangaande die brood.  Hoe dit gebak moet word, en uitgestal moet word en wie dit mag eet en wanneer.  Die brood was gesien as Heilig want dit was afgesonder vir God.  Dit moes in die teenwoordigheid van die Here bly vir 'n week.  Eers daarna kon dit geëet word, en dan ook net deur Aäron en sy seuns, wie ook afgesonder was vir die Here.  Die ou King James vertaling praat van Shewbread in Eksodus 25:30.  Dit kom van die Hebreeuse woord was teenwoordigheid beteken.  Dit is ook vertaal in meer moderne vertalings soos die English Standard Version as "the bread of the Presence".  Die brood was permanent uitgestal in die tabernakel, waar God teenwoordig was. 

Kom ons trek daardie gedagte terug na Jesus toe.  Selfs die toonbrood in die tabernakel het vooruit gewys na Jesus toe.  Wanneer Jesus sê Hy is die Brood van die lewe, sê Hy ook dat Hy in die teenwoordigheid van die Vader is en deur Hom is ons ook in die teenwoordigheid van die Vader.  As ons deel word van Sy kruisiging, en Hy vir ons sterf, sien God ons as perfek, want Hy kyk na ons deur Jesus se geregtigheid en nie ons eie ongeregtigheid nie.  Deur Christus is ons geregtigheid gemaak, en ons kan nou ook voor God staan in Sy Allerheiligheid.  Dit is wat die Brood van die Lewe vir ons kom doen het.  Vir jou en vir my, vir altyd.

Om oor na te dink:

1.  beteken dit vir jou en vir my dat Jesus die middelpunt van die geskiedenis is?

2. Hoe hard probeer ons tog om onsself regverdig te maak voor God en Sy guns te verdien.  Hoekom vind ons dit so moeilik om net te aanvaar dat Jesus Christus dit reeds alles vir ons gedoen het?

No comments:

Post a Comment